ENGLISH    


Diversiteitsbeplanning vir die Universiteit Stellenbosch

  • Inleiding
  • Verbintenisse en waardes
  • Nodige voorwaardes in die bereiking van ons doelwitte
  • Diversiteit
  • Beginsels vir die uitbouing van diversiteit
  • Diversiteitsraamwerk
  • Ten slotte

    Diversiteit

    Die uitbouing van diversiteit is een van die strategiese prioriteite van die Universiteit Stellenbosch. Die onderwerp figureer in die waardesisteem sowel as in die beoogde aksies in ons Strategiese Raamwerk. Die volgende verbintenisse word gegee

  • Dat die totstandbrenging van ‘n korps van uitmuntende studente, dosente en administratiewe personeel wat demografies meer verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse samelewing ten grondslag sal lê van al ons aksies.
  • Dat ons ‘n doelbewuste poging sal aanwend om die rykdom van die land se diversiteit as ‘n bate te benut.
  • Dat ons voortdurende kritiese beoordeling sal doen van die universiteit se toeganklikheid.

    Die Strategiese Raamwerk maak dit duidelikheid dat billikheidsoorwegings, sowel as die nasionale beleidsraamwerk, dit noodsaaklik maak om aan regstellende aksie momentum te gee. Die fokus hier is hoofsaaklik op die demografiese profiel van ons studente- en personeelkorps, en dan nog meer spesifiek op die kleur-onderskeidings (wit, swart, bruin, Indiër) wat ons geërf het uit die apartheidsera. Die sogenaamde “aangewese groepe” waarvan ons die teenwoordigheid wil verhoog is swart-, bruin- en Indiërmense, vroue, en mense met gestremdhede.

    Die 2012 Visiestelling maak dit verder duidelik waarom die uitbouing van diversiteit nodig is vir die bereiking van ons oorkoepelende strategiese doelwitte.

  • Die universiteit sou kwalik ‘n positiewe rolspeler kan wees in die bou van ‘n nuwe gemeenskap in Suid-Afrika indien ons demografiese samestelling steeds ‘n toonbeeld bly van ons apartheidsverlede.
  • Ons taak is om studente voor te berei vir die multikulturele samelewing waarbinne hulle moet woon en werk, en dit sou die bereiking van hierdie doel bemoeilik as ons personeel- en studentekorps nie ook multikulturaliteit en diversiteit vertoon nie.
  • Ons strewe na uitnemendheid sal belemmer word as ons nie die potensiaal benut van alle dele van die Suid-Afrikaanse samelewing nie.

    Dit is ook nie net die verbreding van ons demografiese profiel wat ter sprake is nie, maar die verbreding van ons gedagte- en ideëwereld. Vir die soort van Universiteit wat ons graag wil wees, is ‘n diversiteit van idees belangrik, aangesien dit vernuwende denke stimuleer. Hierdie ideaal is makliker bereikbaar in die konteks van ‘n universiteitsgemeenskap wat alle manifestasies van diversiteit in die moderne samelewing reflekteer: kleur, geslag, geloof, klas, herkoms, gestremdhede, seksuele oriëntasie, gesondheid en siekte, rykdom en armoede.

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111