ENGLISH    


Diversiteitsbeplanning vir die Universiteit Stellenbosch

  • Inleiding
  • Verbintenisse en waardes
  • Nodige voorwaardes in die bereiking van ons doelwitte
  • Diversiteit
  • Beginsels vir die uitbouing van diversiteit
  • Diversiteitsraamwerk
  • Ten slotte

    Beginsels vir die uitbouing van diversiteit

    Ons formuleer hier ‘n aantal beginsels waarvolgens ons beoog om die uitbouing van diversiteit te bestuur. Hierdie beginsels moet gesien word binne die konteks van die oorkoepelende bestuursbeginsels wat gedurende 2002 deur die Bestuur aanvaar is. Hiervan is die volgende in besonder relevant.

  • Die universiteit word bestuur as een geheel: holisties, sistemies.
  • Binne die geheel is daar onderdele, en elke onderdeel word ook bestuur op dieselfde beginsels as die van die geheel.
  • Die belange van die geheel weeg swaarder as die eiebelang van enige onderdeel daarvan.
  • Die bestuur van ‘n onderdeel hang saam met besluitnemingsbevoegdheid, en ook met die gepaardgaande verantwoordelikheid om die onderdeel te bestuur ten bate van die geheel.
  • Alle operasionele aksies word gemeet aan die mate waartoe hulle ons strategiese doelwitte ondersteun en waarde toevoeg.
  • Bestuur is waardegedrewe, meer as reëlgedrewe.
  • Die begroting is ‘n sentrale instrument in veranderingsbestuur. Die begrotingsproses moet veranderingsprioriteite help realiseer.

    Ons beginsels vir die uitbouing van diversiteit is die volgende:

    1. Aard

  • Die uitbouing van diversiteit is ‘n strategiese doelwit van die US.
  • Diversiteit is bemagtigend vir ons visie van uitnemendheid, vir die ontwikkeling van leierskap, en die uitbouing van kundigheid.
  • Diversiteit is ‘n sistemiese eienskap, wat beide onder-na-bo en bo-na-onder implementering verg.
  • Diversiteit staan in simbiotiese verband met ander strategiese doelwitte.
  • Die uitbouing van diversiteit het ‘n etiese grondslag, en staan in diens van die beginsels van menswaardigheid en geregtigheid.

    2. Doelwitstellings

  • Die uitbouing van diversiteit is nie ‘n syfermatige spel nie, maar streef kwalitatiewe doelwitte na wat verband hou met ons institusionele kultuur.
  • Kwantitatiewe teikens word gestel, waar van pas, relatief tot beskikbaarheid van potensiële studente en personeellede.
  • Die differensiasiebeginsel geld: doelwitstelling gee erkenning aan verskille tussen omgewings.

    3. Proses

  • Die uitbouing van diversiteit is ‘n deurlopende proses, waar teikenstelling, monitering, en aanpassing op gereelde basis uitgevoer word.
  • Deurlopende markpeilings word gedoen om beskikbaarheid te bepaal en te monitor.
  • Die universiteit tree self ook op as ‘n rolspeler in die verhoging van beskikbaarheid van potensiële studente en personeel vanuit die aangewese groepe.
  • Vooruitbeplanning word gedoen op ‘n drie- tot vyfjaar-horison.
  • Strategiese kommunikasieprosesse is ‘n wesenlike deel van die proses.
  • Afrikaanstaligheid en diversiteit word tegelyk uitgebou.

    4. Metode

  • Die begroting word gebruik as ‘n instrument in die bevordering van diversiteit. Onder andere word die uitbouing van diversiteit gebruik as ‘n parameter in die befondsingstoedeling aan fakulteite en omgewings.
  • Die uitbouing van diversiteit word gebruik as ‘n parameter in die prestasiebeoordeling van alle bestuurders, akademies en nie-akademies.
  • Die uitbouing van diversiteit word beoordeel met inagneming van realistiese norme van haalbaarheid.
  • Erkenning word gegee aan vordering gemaak.
  • Die aanvaarde beginsels van billike arbeidsregtelike praktyke word gehandhaaf.

Alle regte voorbehou © 2007 - 2011 Universiteit Stellenbosch
Privaat Sak X1, Matieland, 7602, Suid-Afrika
Tel.: +27 21 808 9111